Laerskool Voorpos
Ons sal antwoord op jou roepstem

Skoolreëls & Dissiplinêre stelsel vir leerders

Adjunkhoof - Dissipline: Mnr Tonie van der Westhuizen

Die belangrikste reël is: Gebruik jou gesonde oordeel.

Moenie iets doen om jouself, jou ouers, jou skool of maats in verleentheid te plaas nie.

 

Ingevolge die toepaslike artikels van die Suid-Afrikaanse Skolewet 1996 (Wet No 84 van 1996), die Regulasies vir Beheerliggame van Openbare Skole en die Buitengewone Provinsiale Koerant word die volgende skoolreëls en die gedragskode in oorlegpleging met die beheerliggaam van die skool, aan leerders, ouers en opvoeders van Laerskool Voorpos voorgehou:

 

1.  ALGEMEEN

 

Die doel van hierdie dokument is om:

· Die skoolreëls en die gedragskode vir leerders in ‘n enkele beleidstuk saam te vat en om dit na oorlegpleging met die leerders, opvoeders en ouers te implementeer;

·‘n Geordende, gedissiplineerde en doelgerigte skoolomgewing, wat aan die bevordering en instandhouding van die leerproses toegewys is, te vestig en te bevorder;

· Die opvoedkundige doelstellings van die skool te bevorder; en

· By leerders selfdissipline en voorbeeldige gedrag te vestig en te bevorder.

 

By die ontwikkeling van hierdie dokument is die volgende in ag geneem:

Die visie van die skool:

Hier bou ons vir die toekoms.

Die missie van die skool:

· Om ‘n Christelike waardestelsel, waarbinne opvoeding en onderrig uitnemend is, te vestig, in stand te hou en dié uit te bou.

· Om met die oog op sinvolle betrokkenheid in die samelewing binne die kulturele raamwerk van die gemeenskap, groei en ontwikkeling van die kind te verwesenlik; en

· Om diens aan die gemeenskap te lewer.

 

Relevante wetgewing waaronder:

· Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet No 108   van 1996);

· Die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996 (Wet No 84 van 1996)

· Die Wet op Skoolonderwys, 1995 (Gauteng) (Wet No 6 van 1995)

· Die Regulasies vir Beheerliggame van Openbare Skole, 1997 (Gauteng) (Kennisgewing 786 van 1997);

· Buitengewone Provinsiale Koerant (331 van 28 Feburarie 1997);

· Artikels 9(1) en 20(1)(d) van die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996 (Wet No 84 van 1996) en regulasies 46(c) en (d) van die Regulasies vir Beheerliggame van Openbare Skole, 1997 (Gauteng)   (Kennisgewing 786 van 1997).

 

Die beheerliggaam, opvoeders, leerders en ouers van Laerskool Voorpos verbind hulle tot ‘n stelsel wat:

· Duidelik gekommunikeer sal word;

· Konsekwent afgedwing sal word;

· Dinamies en buigbaar sal wees; en regverdig en billik sal wees, wat   insluit dat alle kante van ‘n saak eers volledig aangehoor en oorweeg sal word, voordat op optrede besluit word.

· Die  regte van alle rolspelers maar ook die verantwoordelikhede as teenkant van sodanige regte, sal deurgaans in ag geneem en gehandhaaf word.  Dit word egter aanvaar dat die          regte van die individu in sommige gevalle beperk kan word deur omstandighede of deur die regte van ander individue of van ‘n groep.  Volgens die Grondwet van die Republiek van          Suid-Afrika, 1996 (Wet No 108 van 1996) vorm onder andere die volgende regte die grondslag van hierdie dokument:

· Die reg op gelykheid wat die reg insluit dat daar nie onbillik   teen iemand gediskrimineer mag word nie;

· Die reg op menswaardigheid;

· Die reg op vryheid en sekerheid van die persoon wat insluit dat ‘n persoon nie op ‘n wrede, onmenslike of vernederende wyse behandel of gestraf mag word nie;

· Die reg op privaatheid;

· Die reg op vryheid van godsdiens, oortuiging en mening;

· Die reg van kinders op onder andere maatskaplike dienste en beskerming teen mishandeling, verwaarlosing, misbruik of vernedering;

· Die reg op onderwys;

· Die reg om die taal van hulle keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem;

· Die reg op toegang tot inligting;

· Die reg op regverdige administratiewe optrede.

Die gedragskode en skoolreëls (waar relevant) sal op alle lede van die Skoolgemeenskap van toepassing wees.  In besonder sal die gedragskode en skoolreëls in die volgende verhoudings tot uiting kom:

· Leerders onderling;

· Leerders en opvoeders;

· Ouers en opvoeders;

· Opvoeders onderling;

· Opvoeders en lede van die beheerliggaam; en

· Lede van die beheerliggaam onderling.


2.  SKOOLREëLS

Toepassing van skoolreëls

Elke ingeskrewe leerder van die skool is onderworpe aan die skoolreëls.  Die skoolreëls sal toegepas word tydens gewone skoolure en amptelike buitemuurse aktiwiteite, ongeag of sodanige aktiwiteite op die skoolterrein of elders plaasvind.  Elke leerder staan onder die reëls van die skool vanaf die tyd van vertrek vanaf die huis totdat hulle in die middae hulle skooldrag by die huis uittrek.  Onderwysers word nie verantwoordelik gehou vir kinders wat na-ure op die terrein ronddwaal nie.

2.1  Kategorie 1-Reëls

2.1.1  Algemeen

· Goeie maniere en gedrag moet ten alle tye teenoor ‘n meerdere,   gelyke en mindere getoon word;

· Slegs die amptelike skool- en sportdrag is toelaatbaar.  Enige ander kledingstuk moet so gedra word dat dit onopsigtelik is;

· Leerders moet altyd netjies en skoon wees;

· Alle klere moet duidelik met  permanente ink gemerk wees;

· Geen items, anders as dit wat nodig is vir onderwys/onderrig, mag   saamgebring word skool toe nie.  Speelgoed, klankapparaat, juwele, grimering en troeteldiere is verbode;

· Geen leerder word toegelaat om duur apparaat te dra of sonder toestemming en toesig te hanteer nie;

· Water en elektrisiteit moet spaarsamig gebruik word;

· Die skoolterrein mag nie sonder toestemming verlaat word nadat dit in die oggend betree is nie;

· Leerders mag nie by die hoofhek en portaal in- en uitgaan nie;

· Na skoolure, ook tydens naweke en vakansies, mag die skoolterrein nie sonder toesig van ‘n opvoeder betree word nie;

· Daar mag nie met verbygangers in die straat gepraat of kontak gemaak word nie;

· Omheinings mag nie beskadig word nie.  Geen oorklimmery/deurkruipery word toegelaat nie;

· Die algemene assistente se kwartiere mag nie betree word nie;

· Geen kougom word toegelaat nie;

· Leerderraad en klasleiers moet te alle tye gehoorsaam word;

· Geen vloek- of skeltaal is toelaatbaar nie;

· Sluitkaste mag nie gedurende periodes besoek word nie;

· Hande in broeksakke is onaanvaarbaar.

 

2.1.2  Terrein

· Rommel en papiere mag nie gestrooi word nie;

· Gevaarlike speletjies is ontoelaatbaar, bv. Duikrugby;

· Fietse moet ten alle tye op die skoolterrein gestoot word;

· Bome en struike mag nie beskadig word nie;

· Daar mag nie in bome, op dakke of geboude konstruksies geklim word nie;

· Daar mag nie op die stoepe/geplaveide gebiede gehardloop word nie;

· Niemand mag naby personeelvoertuie speel nie;

· Daar mag nie naby vensters met balle of enige ander skadelike voorwerpe gespeel word nie;

· Daar mag nie op die pawiljoene gespeel word nie;

· Leerders speel slegs op plekke soos vir die bepaalde grade aangedui en die netheid van hierdie plekke is elke leerder se verantwoordelikheid en trots;

· In die oggende tree die leerders in klasverband op die aantreeblad aan. Absolute stilte heers nadat die tweede klok gelui   het;

· Leerders tree na pouses by die klaskamer aan waar hul klas het voor die tweede klok lui;

· Geen leerder mag by die swembad wees sonder toesig van ‘n personeellid nie;

· Niemand behalwe Graad R- en RR-leerders onder toesig mag op die Graad R/RR-apparaat speel nie;

· Die fietsloods mag slegs in die oggend voor skool en middag na skool betree word;

· Leerders moet by die kantoor uitgeteken word en die voog moet verwittig word dat die leerder uitgeteken is;

· Na skoolure mag die terrein nie sonder toesig van ‘n onderwyser betree word nie – ook nie tydens naweke en vakansietye nie;

· Klagtes/ongerymdhede moet onmiddellik aan die opvoeder aan diens gerapporteer word.

 

2.1.3  Kleedkamers

· Die kleedkamers moet ten alle tye skoon en netjies gehou word;

· Daar mag nie onnodig in die kleedkamers vertoef of gespeel word nie;

· Gaan alleen;

· Gebruik toiletpapier en water spaarsamig.

 

2.1.4  Klaskamers

· Huiswerk moet in huiswerkboek aangeteken en voltooi word soos voorgeskryf;

· Roosters moet nagegaan word sodat nodige boeke by skool kan wees;

· Daar mag in geen lokale geëet of gedrink word nie;

· Speel, rondhardloop of gly in lokale is verbode;

· Lokale mag nie met modderbesmeerde voete betree word nie;

· Vensters wat oop- en toegemaak word, moet uiters versigtig hanteer word;

· Wanneer die interkom aangeskakel word, moet daar onmiddellik stilte heers;

· Slegs die enkele leerders met wie die personeel ‘n reëling getref het om die lokaal skoon te maak, mag sonder toesig in die lokaal wees;

· Alle klasse word in die middae na skool gesluit nadat alle vensters toegemaak is en die ligte en waaiers afgeskakel is;

· Wanneer die stilteklok om 13:30 lui, staak onderrig. Selfone word uitgedeel en daar word onmiddellik met gebed in alle klasse afgesluit.

 

2.1.5  Telefoon

· Kaart- en munttelefone is vir die gerief van die leerders geïnstalleer. Leerders moet self toesien dat hulle die korrekte kaarte of kleingeld byderhand het;

· Geen inkomende oproepe mag vanaf hierdie telefone ontvang/hanteer word nie;

· Die telefoon mag nie tydens periodes gebruik word nie.

 

2.1.6  Selfone (Tablette/IPhones/IPads/Slimfone)

Selfone (Tablette/IPhones/IPads/Slimfone) word onder die volgende voorwaardes by die skool toegelaat:

· Selfone word tydens die voogperiode aan die begin van die skooldag deur die voogonderwyser ingeneem en in veilige bewaring gehou tot aan die einde van die skooldag waarna dit       weer aan die leerder terugbesorg word;

· Enige kontak tussen leerder en ouer gedurende skooltyd geskied slegs met die wete en toestemming van die skool;

· Selfone dien as kontakmiddel tussen leerders en ouers na skool, slegs in die tye wanneer leerders nie meer onder die direkte toesig van die skool staan nie;

· Wanneer ‘n leerder tydens skoolure met ‘n selfoon betrap word, sal dit afgeneem word en die ouer sal in kennis gestel word om dit by die skool te kom afhaal;

· Die skool aanvaar geen aanspreeklikheid vir enige verlies van of skade aan selfone nie;

· Enige opnames van enige ontoelaatbare gedrag sal beskou word as aandadig aan die oortreding.

 

2.1.7  Padveiligheid

· Die skolierpatrollie moet ten alle tye gehoorsaam word;

· Cunningham- en Dickensonlaan mag slegs by die skolierpatrollie oorgesteek word.

 

2.1.8  Wagklas

· Leerders wat vir ouer boeties, sussies, ouers of vir enige ander persoon wag, moet in die wagklas wag totdat hulle by die klas afgehaal kan word.

 

2.1.9  Tasse

· Tasse moet behoorlik aan die binnekant gemerk word;

· Seilsakke of enige ander sak sonder ‘n versterkte raam en afskortings word nie as boektasse toegelaat nie;

· Geen slagspreuke, tekens of plakkers mag op tasse aangebring word nie;

· Om in ander leerders se tasse te krap of dit weg te steek, is verbode;

· Tasse mag nie op die terrein rondlê nie, maar moet voor skool en tydens pouses op die voorgeskrewe plekke neergesit word;

· Sportsakke moet liefs in sluitkaste gebêre word of in netjiese rye voor klasse neergesit word sonder om die weg op stoepe te versper;

· Geen “Boks”-tipe tasse word toegelaat in die grondslagfase nie.

 

2.1.10  Klaswisseling

· Klaswisseling moet ordelik, stil en flink plaasvind, slegs in enkelrye;

· Hou links op stoepe.

 

2.1.11  Saalbyeeenkomste

· Stilte moet in die saal heers tydens alle byeenkomste;

· Geen leerder, behalwe saalleiers, mag in die saal wees sonder die toesig van ‘n personeellid nie;

· Leerders tree eers aan op die voorgeskrewe plek voordat hulle in die saal stap.

 

2.1.12  Huiswerk

· Huiswerk moet te alle tye in die huiswerkboek geskryf word en  moet pligsgetrou uitgevoer word;

· Die huiswerkboeke moet stiptelik by die skool beskikbaar wees vir  nasien;

· Alle studiemateriaal soos deur die onderwyser voorgeskryf en deur die klasrooster vereis vir die dag se onderrig moet stiptelik by die  skool beskikbaar wees;

· Leerders wat werk as gevolg van afwesigheid misloop, moet self met die betrokke opvoeders reëlings tref om die werk in te haal of te voltooi.

 

2.1.13  Haarstyle

 

Seuns

· Geen vreemde haarstyle word toegelaat nie;

· Geen jel op hare nie;

· Kleur van hare word nie toegelaat nie;

· Hare moet altyd goed versorg en netjies gekam wees;

· Hare mag nie oor die ore groei nie;

· Hare mag ook nie oor die kraag van ‘n hemp groei nie.

 

Dogters

· Geen vreemde haarstyle word toegelaat nie;

· Geen los hare mag voor die ore afhang nie;

· Geen jel, mousse of haarsprei op hare nie;

· Hare moet ten alle tye netjies en uit die gesig wees;

· Kleur van hare word nie toegelaat nie;

· Sodra hare aan die bloes se kraag raak, moet dit vasgemaak word;

· Haarbykomstighede mag slegs wynrooi, ougoud, geel of deurskynend (bruin) wees.

 

2.1.14  Juwuliersware

 

· Geen juweliersware word saam met skooldrag gedra nie;

· Geen hangertjies word toegelaat nie;

· Slegs goue, silwer en swart horlosies word toegelaat. Kostuum-horlosies word nie toegelaat nie;

· Slegs allergie- en Crisis-on-call-bandjies/hangertjies word toegelaat;

· Dogters mag seëlringe en klein goue / silwer oorknoppies dra.

 

2.2  Kategorie 2-Reëls

· Arrogansie, onbeskoftheid, ongehoorsaamheid en ongemanierdheid teenoor enigiemand sal nie geduld word nie;

· Leerders mag nie in ‘n bakleiery betrokke raak nie;

· Sportspanne of kultuurgroepe mag nie in die steek gelaat word nie;

· Swak gedrag tydens skoolgeleenthede mag nie plaasvind nie;

· Geen leerder mag ‘n ander persoon boelie, afknou, teister of intimideer nie;

· Meubels / mure mag nie beskadig, bekrap of besmeer word nie word nie;

· Leerders mag nie huiswerk van ander afskryf nie.

 

Herhaalde oortredings van kategorie 1-reëls mag tot gevolg hê dat ‘n oortreding van ‘n kategorie 1-reël

vir doeleindes van tugstappe as ‘n kategorie 2-reël beskou word.

 

2.3  Kategorie 3-Reëls

· Ander leerders mag nie aangerand word nie;

· Geen diefstal mag plaasvind nie;

· Besit en/of gebruik van sigarette/tabak is verbode.  Selfs toeskouers by hierdie oortreding sal soos die gebruiker gestraf word;

· Besit van gevaarlike voorwerpe is verbode;

· Leerders mag nie oneerlik wees tydens toetse of eksamens nie;

· Beskadiging van ‘n ander se eiendom en vernielsug sal nie geduld word nie;

· Geen voorvalle van rassehaat of aanval op ander mag plaasvind nie;

· Leerders mag nie stokkiesdraai nie;

· Die maak van ontoelaatbare en onwelvoeglike gedrag se klank- en beeldopnames is streng verbode.

 

Herhaalde oortredings van kategorie 2-reëls mag tot gevolg hê dat ‘n oortreding van ‘n kategorie 2-reël

vir doeleindes van tugstappe as ‘n kategorie 3-reël beskou word.


2.4  Kategorie 4-Reëls

· Seksuele teistering en ander wandade van ‘n perverse aard sal nie geduld word nie;

· Aanranding waar die slagoffer ernstige beserings opdoen of waar ‘n voorwerp, wat ernstige beserings of leed kan veroorsaak, gebruik word, is verbode;

· Besit van vuurwapens, wapens of ander voorwerpe wat ernstige liggaamlike beserings of psigiese leed kan veroorsaak, is verbode;

· Besit en/of gebruik van of handel in alkoholiese drank of dwelms is verbode;

· Besit van pornografiese of ander aanstootlike materiaal is verbode;

· Die plaas van ontoelaatbare en onwelvoeglike gedrag se klank- en beeldopnames op sosiale media is streng verbodeen sal beskou word as aandadig aan die oortreding.

 

Herhaalde oortredings van kategorie 3-reëls mag tot gevolg hê dat ‘n oortreding van ‘n kategorie 3-reël vir doeleindes van tugstappe as ‘n kategorie 4-reël beskou word.

 

3.  TUGMAATREëLS - DISSIPLINêRE STELSEL

 

3.1  Agtergrond

Met die afskaffing van lyfstraf moes skole ‘n werkbare alternatief vind vir die handhawing van dissipline. Gesien in die lig dat skole toenemend voor die hof gedaag word oor die hantering van insidente, is daar by Laerskool Voorpos besluit om van ‘n kategoriestelsel gebruik te maak.  Die reëls van die skool is in vier kategorië ingedeel, wat dan ook die straf vir sekere oortredings bepaal.

 

3.2  Toepassing

· Toepaslike tugmaatreëls sal slegs deur opvoeders (wat gradevoogde en departementshoofde insluit), die adjunkhoof, hoof, beheerliggaam of ‘n komitee van die beheerliggaam               toegepas word;

· Ouers van leerders wat oortree sal, sover dit prakties moontlik is, op die hoogte van sake gehou word;

· Die toepassing van enige tugmaatreël sal te alle tye sensitief en in ‘n gees van goedgesindheid, liefde en ondersteuning plaasvind. Die lewensfase waarbinne die leerder hom of haar bevind, sy of haar fisiese en psigiese toestand en erkende opvoedkundige beginsels sal deurgaans prioriteit geniet;

· Sover dit prakties moontlik is, sal die proses wat op ‘n beweerde oortreding volg, nie in die teenwoordigheid van ander leerders of opvoeders wat nie by die aangeleentheid betrokke is nie, plaasvind nie;

· Die oplegging van straf sal altyd aan die vereistes van deursigtigheid, billikheid, regverdigheid en redelikheid voldoen en sal by die aard van die oortreding pas;

· Geen straf sal opgelê word sonder dat daar behoorlik ondersoek     na al die omstandighede wat tot die voorval aanleiding gegee het, ingestel is nie.

 

3.3  Strafmaatreëls

3.3.1  Hantering/optrede ten opsigte van oortreding van Kategorie 1-reëls

Wanneer ‘n leerder ‘n kategorie 1-reël oortree en die persoon belas met die ondersoek na die oortreding van oordeel is dat die oortreding nie ernstig van aard is nie, kan daardie opvoeder die leerder berispe of hom of haar ‘n mondelinge waarskuwing gee.  Waar die persoon belas met die ondersoek na die oortreding oordeel dat die voorval ‘n inskrywing in die leerder se insidenteregister regverdig, word die voorval in die register aangeteken.  Indien 'n inskrywing gegee is kan die persoon belas met die ondersoek na die oortreding nie die inskrywing wysing of terugtrek nie. Dit kan slegs deur die hersieningsraad gedoen word.

Indien 'n leerder 'n inskrywing ontvang, kwalifiseer die leerder vir ‘n pousedetensie.

Sodanige detensie sal gedurende tweede pouse op Maandae en Donderdae plaasvind.  Die lokaal sal met die leerders gereël word.  Sodra ‘n leerder ‘n vierde inskrywing vir ‘n pousedetensie kry, is ‘n Vrydagmiddagdetensie van toepassing.  Die ouer(s) sal skriftelik deur die klasvoog in kennisgestel word waar en wanneer die detensie sal plaasvind.  Skriftelike redes vir sodanige detensie sal ook aan die ouer(s) deurgegee word.  'n Afskrif van die leerder se insidenteregister sal aan die ouer gestuur word.

Indien ‘n leerder hom of haar na sodanige Vrydagmiddagdetensie weer aan vier kategorie-1-oortredings skuldig maak sal daar ‘n onderhoud tussen die hoof/adjunkhoof en die leerder en sy of haar ouer(s) gereël word.  Tydens sodanige onderhoud sal die betrokke oortreding, vorige oortredings en gepaste dissiplinêre maatreëls bespreek word.

 

3.3.2  Herhaalde Oortreders

Indien ‘n leerder drie Vrydagdetensies deur die jaar moes sit, mag hy/sy nie op uitstappies gaan nie.  Omdat leiers ‘n voorbeeld moet stel, word leerders van graad 6, wat hulle gedurende die jaar aan erge wangedrag skuldig gemaak het, nie vir verkiesing oorweeg nie.  Die insidentregisters word hier as maatstaf gebruik.  As ‘n leerder vier (4) Vrydagdetensies moes sit, word die meriete van sy of haar nominasie in heroorweging geneem.

 

3.3.3  Hantering/optrede ten opsigte van oortreding van Kategorie 2-reëls

Die straf vir die oortreding van enige kategorie 2-reël is 'n summiere Vrydagmiddagdetensie.  Die persoon belas met die ondersoek sal, indien hy of sy oortuig is dat die leerder skuldig is aan die betrokke oortreding, ‘n inskrywing in daardie leerder se insidenteregister maak.  Die ouer(s) sal skriftelik deur die klasvoog in kennis gestel word waar en wanneer die detensie sal plaasvind.  Die redes vir sodanige detensie sal ook aan die ouer(s) deurgegee word.  Indien ‘n leerder hom of haar na sodanige Vrydagmiddagdetensie weer aan ‘n kategorie 2-oortreding skuldig maak, sal daar ‘n onderhoud tussen die hoof/adjunkhoof en die leerder en sy of haar ouer(s) gereël word.  Tydens sodanige onderhoud sal die betrokke oortreding, vorige oortredings en gepaste dissiplinêre maatreëls bespreek word.

 

3.3.4  Hantering/optrede ten opsigte van oortreding van Kategorie 3-reëls

Indien ‘n leerder hom of haar aan ‘n kategorie 3-oortreding skuldig maak, sal daar onmiddellik ‘n onderhoud tussen die hoof/adjunkhoof en die leerder en sy of haar ouer(s), gereël word.  Tydens sodanige onderhoud sal die betrokke oortreding, vorige oortredings en gepaste dissiplinêre maatreëls bespreek word.  Die hoof/adjunkhoof sal, na ondersoek van die aangeleentheid en met inagneming van die ouer(s) se insette en alle ander relevante feite, op gepaste, dissiplinêre maatreëls besluit.  Skorsing (sien paragraaf 3.3.6) kan hier ter sprake kom.

 

3.3.5  Hantering/optrede ten opsigte van oortreding van Kategorie 4-reëls

Indien ‘n leerder hom of haar aan ‘n kategorie 4-oortreding skuldig maak, sal daar ‘n onderhoud tussen die dissiplinêre komitee van die beheerliggaam en die leerder en sy of haar ouer(s) gereël word.  Indien ‘n ander leerder of persoon deur die optrede van die leerder benadeel is, kan daardie leerder en sy of haar ouer(s) of ander persoon ook versoek word om by die onderhoud teenwoordig te wees.  Tydens die onderhoud sal die oortreding ondersoek word en sal daar van die betrokke leerder en sy of haar ouer(s) verwag word om in oorleg met die dissiplinêre komitee, gepaste dissiplinêre maatreëls voor te stel.  In gepaste gevalle kan daar, aanvullend tot die voorgestelde dissiplinêre maatreëls, ook oorweeg word om die leerder onder die toesig van ‘n mentor te plaas en/of die leerder op koste van die ouer(s) vir terapie of ander remediërende aksie te verwys.  Die dissiplinêre komitee sal, na ondersoek van die aangeleentheid en met inagneming van die ouer(s) se voorstel en alle ander relevante feite, op gepaste dissiplinêre en ander maatreëls besluit.  Daar sal van die ouer(s) van die leerder wat oortree het, verwag word om skriftelik tot bevrediging van al die partye te onderneem om aan die dissiplinêre en ander stappe waarop besluit is, gehoor te gee.  Uitsetting (sien paragraaf 3.3.7) kan hier ter sprake kom.

 

3.3.6  Skorsing

Indien ‘n leerder hom of haar aan die oortreding van ‘n kategorie 3-reël of voortdurend aan wangedrag skuldig maak, kan hy of sy geskors word.  Die tydperk van die skorsing kan wissel van een onderrigperiode, ‘n skooldag of selfs langer.  Die beheerliggaam, sal met inagneming van alle relevante wetgewing en beleidsvoorskrifte, verantwoordelik wees om die saak deeglik te ondersoek voordat skorsing plaasvind.  In alle gevalle waar skorsing oorweeg word, sal die betrokke leerder en sy of haar ouer(s) skriftelik van die prosedure wat gevolg moet word en hulle regte, in kennis gestel word.  Leerders wat werk as gevolg van skorsing misloop, is self verantwoordelik om die werk in te haal of te voltooi.

 

3.3.7  Uitsetting

Indien ‘n leerder hom of haar aan die oortreding van ‘n kategorie 4-reël skuldig maak of wanneer ‘n oortreding of reeks oortredings die uitsetting van ‘n leerder regverdig, kan uitsetting oorweeg word.  Die aangeleentheid sal ooreenkomstig die relevante wetgewing en beleidsvoorskrifte hanteer word.  In alle gevalle waar uitsetting oorweeg word, sal die betrokke leerder en sy of haar ouer(s) skriftelik van die prosedure wat gevolg moet word en hulle regte, in kennis gestel word.

 

3.3.8  Indien ‘n leerderraadslid herhaaldelik probleme ondervind met ‘n leerder, moet die volgende stappe gevolg word:

Die leerderraadslid moet die leerder na die leerder se klasvoog neem, wat dan aandag aan die saak sal gee.  Indien die klasvoog nie die probleem kan oplos nie, moet dit na die gradevoog verwys word.  As die probleem nog bestaan, word dit dan verwys na die departementshoof, adjunkhoof en dan na die hoof.

 

3.4  Appélprosedure

Enige leerder of sy of haar ouer(s) het die reg om teen enige bevindinge en/of straf te appelleer.  Alle appélle word deur 'n Hersieningsraad hanteer.

 

Die Hersieningsraad sal alle appélle fasiliteer in samewerking met die persone of instansies soos hieronder uiteengesit. Die skoolhoof sal as koördineerder en voorsittendebeampte van die Hersieningsraad optree. Die skoolhoof kan die Hersieningsraad soos benodig, na gelang van die erns van die oortreding, uit die persone of instansies soos hieronder saamstel.

· Klasvoog

· Gradevoog

· Departementshoof

· Adjunkhoof

· Hoof

· Beheerliggaaam

· Departementshoof:  GDO

 

As voorsittende beampte het die skoolhoof die gesag om die besluit finaal te hersien, bevestig of te verander na gelang van die omstandighede.

 

Indien daar 'n dispuut oor die die Hersieningsraad se besluit is kan die saak na die Beheerliggaam verwys word vir oorweging. Indien die saak nie bevredigend deur die Beheerliggaam opgelos is nie kan die saak na die Departementshoof: GDO verwys word. Die saak sal dan verder deur die GDO hanteer word.

 

Die Hersieningsraad se besluite moet te alle tye die waardes en reëls soos in paragraaf 1 van hierdie dokument reflekteer.

 

Behoudens enige statutêre vereistes, kan die persoon na wie geappelleer word, vereis dat die appél op skrif gestel word.

 

3.5  Positiewe Insidenteregister

Die doel van die register is om aan opvoeders die geleentheid te bied om positiewe eienskappe van leerders aan te prys en aan te moedig.

 

3.5.1  Toepassing

Indien ‘n leerder positiewe gedrag openbaar of iets positief doen, word dit in die register aangeteken.  Leerders se ouer(s) word in kennis gestel van die positiwiteit van hul kinders.

 

3.5.2  Voorbeelde van positiewe gedrag

Onder positiewe gedrag word onder andere die volgende verstaan:

· Prestasie op sport of kulturele gebied;

· Werk van hoogstaande gehalte of die verrigting van addisionele werk;

· Verrigting van diens;

· Openbaring van deursettingsvermoë;

· Leierskap;

· Inisiatief.

 

Die voorbeelde hierbo moet geensins as volledig beskou word nie.